Bicycle sonder ‘n slot Koos Kombuis
Bicycle sonder ‘n slot 1. Karin onthou jy ons kuiers met koeldrank 2. alleen in die kaia van jeugtyd se groen 3. onthou jy die dae van skoolbank en kerse 4. die nagte met honde en goed om te doen Refrein ek bring vir jou blomme ek gee jou genot ek leen jou my bicycle sonder ‘n slot ek weet dit is laat en jou ma-hulle slaap maar ek moes net vir jou sê ek het jou lief soos die Kaap
5. saam het ons bulte geklim in die somer 6. en fietsgery al om die soom van ‘n droom 7. wat as jy groot is, is die lewe net stroomop? 8. al ons vrae het gewapper soos vlieërs aan ‘n boom HERHAAL REFREIN 9. Karin verstaan jy dat jare soos wyn 10. kan oud word in kanne vol vriendskap en son 11. weet jy dat net kinders liewe Jesus kan liefhê 12. maar dat kinders die wêreld al meer verstom
You-tube liedjie
Algemene agtergrond:
1. Die digter Koos Kombuis het in die jare 60 en 70 in Stellenbosch grootgeword. Hy het moontlik hierdie Karin geken. Party mense dink dit is sy skrywersvriend, Etienne van Heerden, se huidige vrou. Dalk is dit slegs maar net ‘n naam vir ‘n meisie in die gedig, sommer enige bekende Afrikaanse naam.
Etienne van Heerden se huidige vrou
Etienne van Heerden
2. Liriek Die gedig is die liriek van ‘n baie gewilde Afrikaanse liedjie. Daarom bevat dit liriese elemente soos herhalings: *klankherhalings *woordherhalings *sinsherhalings Dit is ‘n BALLADE, omdat hier ‘n REFREIN (koortjie) tussen die strofes is.
3. Titel Die titel bevat ‘n Engelse woord, wat in die gedig herhaal word. Onthou, die ek-spreker (die jongman) en die aangesprokene (Karin) was jongmense toe hulle hierdie dinge saam beleef het. Tieners meng soms hulle taal. Baie meer tieners het in daardie jaar fiets gery as vandag en dit is dus gepas in die gedig.
“Sonder ‘n slot” word metafories bedoel: - dit is ‘n verwysing na die sorgeloosheid, vryheid en vertroue in die jong verhouding. In die gedig leen hy egter net die “bicycle” vir haar: - liefde, jeug en sorgeloosheid is slegs tydelik.
4. Inhoudsopsomming Hy vra vir Karin of sy onthou hoe hulle as jongmense gekuier en koeldrank (onskuld) gedrink het. Hulle was alleen in die kaia (Nguni-woord vir huis) of wêreld van hul vriendskap of liefde. Hulle was nog “groen” (jonk en onskuldig). Saam het hulle baie dinge gedoen, selfs stoute dinge soos skoolbank, of deur die nag by mekaar kuier, met net die kerslig.
Dit was so diep in die nag dat net die geblaf van honde gehoor kon word. Die “goed” wat hulle gehad het om te doen, was seker nie net skoolwerk nie! Dit bly seker hulle geheim! In die REFREIN noem hy die spesiale goed wat hy vir haar doen: Hy bring vir haar blomme en verskaf pret in haar lewe. Hy “leen sy bicycle sonder ‘n slot” – dit gee aan haar VRYHEID en SORGLOOSHEID. Hy VERTROU haar.
Hy besef dat dit al laat is en dat haar ma-hulle al slaap (dus is hulle by haar ouerhuis), maar hy vind dit noodsaaklik om eers vir haar te vertel dat hy haar liefhet. Hy vergelyk dit met sy liefde vir die Kaap, ‘n plek wat hy baie, baie liefhet. Dan noem hy nog ‘n paar goed wat hulle saam gedoen het (herinneringsvers – let op die woord het.) Hulle het buitelug-dinge gedoen, soos gesonde jongmense: in die somer het hulle saam teen bulte uitgeklim en fiets gery.
Hulle was so gelukkig op hul fietse dat dit gevoel het asof hulle op die rand van ‘n droomwêreld leef. Dan kom daar ‘n WENDING: Skielik besef hy dat jy gaan verander as jy grootword: * Jy gaan “stroomop”/hardkoppig raak. * Jy gaan begin skop teen die prikkels van die lewe. Die lewe gaan ook “stroomop” raak (personifikasie) en gaan jou dalk sleg behandel. Soos die kind ouer word, begin hy ook vrae vra, maar grootmense het nie altyd die antwoorde nie.
Daarom “wapper” hul vrae “soos vlieërs aan ‘n boom”. Gewoonlik wapper ‘n vlag, maar deur hierdie beeld word bevestig dat hul vrae in die lug bly hang, sonder antwoorde. Dan spreek hy Karin weer direk aan en vra haar of ‘n mens ook beter kan word met die ouderdom, soos (vergelyking) rooiwyn ook verbeter as dit ouer word. Jy kan steeds baie vriendskappe (kanne vol vriendskap) beleef en geluk (son) ervaar.
Tog verloor jy soms jou opregte geloof en besef jy dat slegs kinders dit kan regkry om onvoorwaardelik in Jesus te glo. Tog moet ‘n mens kinders nie onderskat nie: wanneer hulle eendag groot is, gaan hulle almal verbaas met wat hul regkry (kinders die wêreld al meer gaan verstom). Dit is eintlik ‘n hiperbool, want die hele wêreld kan nie een spesifieke mens ken nie.
5. Tema Die jongmens verloor sy naïwiteit as hy grootword en begin die lewe bevraagteken.
Opdrag: Hierdie gedig is ‘n briljante voorbeeld van ‘n ballade, asook ‘n herinneringsgedig, ‘n gevoelsgedig en gesprekspoësie. Bespreek bostaande stelling deur kortliks te verwys na die vereistes van die ballade, beelde van herinneringe aan hul jeug, die toon/atmosfeer van sorgvryheid en die aard van die spreker en aangesprokene in hierdie “gesprek”.
Werkswyse by die langvraag: Gee SEWE inhoudsfeite: Middelparagrawe bv: * 1 feit - Ballade * 2 feite - Herinneringsbeelde * 2 feite - Sorgvryheid * 2 feite - Aard ONTHOU: * Motiveer altyd jou stellings!!!!!! * Eensin inleidingsparagraaf. * Eensin slotparagraaf wat by die opdrag aansluit.
Voorbeeld van die LANGVRAAG Inleidingsparagraaf: In hierdie ballade word die herinneringe en gevoelens van ‘n jongman van destyds baie mooi uitgebeeld. Middelparagrawe: 1. KIES EEN FEIT VIR EIENSKAPPE VAN DIE BALLADE: * Daar is altyd ‘n refrein in die ballade, soos die kursief gedrukte gedeelte wat begin met: “Ek bring vir jou blomme.”
* ‘n Ballade is ‘n gedig met ‘n verhaallyn in digvorm en hier word die verhaal van ‘n jeugvriendskap tussen die spreker en Karin vertel. * Daar is sterk liriese elemente, soos die herhaling van “Karin onthou jy?”. * Direkte woorde word dikwels gebruik, soos wanneer hy met haar praat en vra: “Karin, onthou jy?” KIES TWEE FEITE OOR HERINNERINGE: * Daar word aktiwiteite uit hul jeug herroep, soos die “kuiers met koeldrank”. * Hy onthou hoe hulle saam stout was as hy praat van “dae van skoolbank”.
* Hy onthou hoe hulle tot diep in die nag gekuier het, want hy praat van “kerse” en “nagte met honde”. * Hy onthou hul buitelug-aktiwiteite, soos “bulte geklim” en “fiets gery”. KIES TWEE FEITE OOR DIE ATMOSFEER VAN SORGVRYHEID: * In die titel bewys hy hoe hy haar in hierdie verhouding vertrou, want hy het sy “bicycle sonder ‘n slot” vir haar geleen. * Hulle het nie juis aan gevare gedink nie, want die “bicycle sonder ‘n slot” impliseer roekeloosheid. * Hulle het nie aan die gevolge van hul dade gedink nie, want hulle het “skool gebank”.
* Hy het dit gewaag om tot baie laat by haar te kuier, al het haar “ma-hulle al geslaap”. KIES TWEE FEITE OOR DIE AARD VAN DIE SPREKER EN AANGESPROKENE: * Die spreker is ‘n man wat terugdink aan sy skooljare toe hy Karin geken het: “Karin onthou jy?”. * Die ek-spreker dink terug aan sy sorgvrye vriendskap/liefde vir Karin, in sy jongdae: “Ek bring vir jou blomme, ek gee jou genot”. * Die aangesprokene is ‘n meisie wat hy duidelik onthou: “Karin, onthou jy?” * Die aangesprokene het, soos hy, ook ouer geword en begin dink: “Wat is jy as jy groot is...?”
Slotparagraaf: Ten slotte sien ons dat die struktuur en beelde in die gedig effektief daartoe bydra om ‘n verhaal van twee sorgvrye jongmense vertel. NBNBNBNBNBNBNBNBNBNBNBNBNBNBNB!!!!!!!!!!!!! Skryf ongeveer 200 tot 250 woorde. Jy hoef nie die PIV-beginsel toe te pas nie. Motiveer wel elke stelling uit die teks. Jy mag GEEN kolpunte of subopskrifte in jou finale opstel hê nie. Jy moet NIE alles in een paragraaf skryf nie. Trek beplanning dood. Dui die getal woorde aan.